Sondag, April 22, 2018

Ivan the Terrible

Dit is een van die ewige gegewes van reportage dat kunstenaars in verre lande "vervolg" word. In repressiewe plekke soos Rusland, China, Iran en die ou Suid-Afrika veg hulle om waarheid-aan-mag te spreek. Hul werke word onderdruk en verban en eers jare later, indien ooit, sien dit die lig. Feitlike alle verslaggewing oor kunstenaars uit diesulke lande, vandag nog, word deur hierdie lens gedoen.

Hierdie praatjies laat my altyd met 'n wrang glimlag. Min mense weet bv dat die belangrikste versameling moderne Westerse kuns buite Noord-Amerika en Europa in die Tehran Museum vir Eietyds Kuns is.

Neem die geval van die mees beroemde filmmaker uit die Sowjet Unie - Sergei Eisenstein.

In die jaar van die groot Russiese Rewolusie - 1917 - was DW Griffith se fliek Intolerance besig om stadig maar seker deur die wereld te reis. Griffith was ontsteld dat mense aanstoot kon neem teen sy vorige fliek - Birth of a Nation - waarin die helde (die Ku Klux Klan) die Amerikaanse Suide red van Swart stemgeregtiges.
Hy wou wys waar sy hart regtig lê en het 'n manjifieke storie konsipieer wat onverdraagsaamheid uit vier eras verweef in een fliek, rondom die beeld van Lillian Gish wat haar baba wieg ...out of the cradle endlessly rocking....

By die loket was Intolerance so groot flop soos wat Birth of a Nation 'n sukses was. Maar vir kommuniste oral was dit soos die poorte van die hemel wat geopen het. Lenin het vir Griffith geskryf en aangebied dat hy die Sowjet Unie se filmindustrie kon oorneem.

Griffith het ge-nee-dankie, en binnekort sou die Sowjet Unie hul eie ster, nog groter as Griffith, hê: Eisenstein.

Eisenstein se flieks Strike!, Oktober en die Battleship Potemkin was alles hee-ha! kommunistiese propaganda - maar die filmtaal van Intolerance is vinnig opgetel en dramaties verdiep, die beelde het oorspoel met 'n golf van emosie en energie. Dit was 'n internasionale sensasie, skielik was kommunistiese Rusland op die voorpunt van filmkuns.

Dit was die dae van die "silent movies".

En toe, uit Amerika, kom twee goed: "talkies", en 'n plek in Los Angeles met die naam Hollywood.

Eisenstein gaan Hollywood toe. Amptelik is dit om "klank" na te vors, maar eintlik omdat die glans en die nuuskierigheid hom opeet.

Hy was vyf jaar in die Weste. Sy reputasie het hom voorafgegaan. Hy het 'n reuse kontrak van Paramount Pictures gekry, toegang tot al die sterre van Hollywood, die borgskap van die grootste ster van die tyd - Charlie Chaplin. Die linksgesinde gemeenskap in Amerika het sy elke doen en late gevolg en vir hom duimvasgehou.

En wat het dit opgelewer? Zero.

'n Warboel stukkies van wie-weet-wat, maar nie 'n enkele fliek nie.

Eisenstein is terug na die Sowjet Unie met leë hande, waar die industrie reeds oorgeslaan het na klank sonder sy hulp.

En daar het Stalin gewag - die mees gevreesde tiran in die wêreld. Vir wat sou Eisenstein ooit weer teruggaan na Moskou? Wat het verkeerdgegaan in Amerika? Te veel vryheid?

Eisenstein, in hierdie laaste fase, sou nog twee flieks maak, altwee direk op Stalin se bevel. Alexander Nevsky was 'n stuk diknek propaganda op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, dit wys hoedat Stalin se voorsate Hitler se voorsate verjaag.

En die laaste een - Ivan the Terrible. Stalin het homself blykbaar met die 16de eeuse diktator vereenselwig.

Ivan is gemaak in die laaste jare van die 2de Wêreldoorlog en het uitgesprei in drie dele, elkeen omtrent 90 minute. Die eerste deel van Ivan is uitgereik nog voor die oorlog verby was, en was, soos Alexander Nevsky, 'n groot sukses. 

Die tweede deel is verban en nie uitgereik tot na Stalin (en Eisenstein) se dood nie.

Die derde deel was nog in wording en Eisenstein moes dit blitsig kortknip om nie verder Stalin se haat op die hals te haal nie. Net enkele fragmente daarvan bestaan.

Deel 1 vertel jong Ivan, sy oorloë en die verraad van sy aristokrasie. Dis redelik voorspelbare stof, maar gemaak met 'n fantastiese oog vir drama en tema, met godsdienstige ikone wat oor alles sweef en oë wat dophou. Regverdigheid teen die mure.

Deel 2 maak baie meer van Ivan se eensaamheid, sy kompromieë met die kerk en die aristokrasie word so semi homo-eroties uitgebeeld.

Een toneel in die fliek is in kleur geskiet - die dans macabre van Ivan se makkers. Eisenstein het ten doel gehad dat dit die groot sintese van al die kunste moes wees, waarna Wagner so gestreef het.

Die grootste oomblik van die film ( en dit is die hoendervleis werd ) is wanneer Ivan sy vyand Staritska trick om die Tsar se kroon op sy kop te sit en die godsdienstige prosessie die kerk in te lei, waar 'n sluipmoordenaar wag.

Wanneer Staritska se ma na die tyd haar kind op die kerkvloer vashou, en haar seun se lyk uit haar skoot gesleep word, bly sy met net die kroon in haar hande - die kroon waarvoor sy vir jare geheul het, en wat vir net 'n paar minute op haar seun se kop was. 

Was Eisenstein, die groot kunstenaar, 'n slagoffer?

Na sy lang afwesigheid en mislukkings, om weer terug op die perd te kom, het Eisenstein vir Stalin 'n gat in die kop gepraat dat die werklike skuld vir sy dekade-lange depressie by die hoof van Sowjet film gelê het. 

Stalin het die man - Boris Shumyatsky - summier laat doodskiet. En daarna was dit terug na besigheid. Films moet gemaak word.

Aan die einde van die dag is kunstenaars, soos ons almal, deels goed en deels sleg, deels slagoffers en deels toedieners, deels radikaal eerlik en deels leuenaars en bedrieërs.

Dit is die kuns wat alles heilig.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking