Sondag, Oktober 15, 2017

Mishima

Runaway Horses
Stel jou voor NP van Wyk Louw, of Breyten Breytenbach, voer 'n staatsgreep uit om die land oor te neem in die naam van skoonheid, kuns en tradisie.

So iets is werklik in Japan probeer, in 1970, deur hul grootste skrywer Yukio Mishima.

Mishima was reeds drie keer benoem vir die Nobelprys vir Letterkunde toe hy die bevelvoerder van 'n weermag kamp gevange neem en sy soldate probeer inspireer om die land vir die Japanese Keiser terug te neem.

Toe Keiser Hirohito - 25 jaar tevore - op 15 Augustus 1945 Japan se oorgawe oor die radio aankondig was dit die eerste keer dat gewone Japanese sy stem hoor.

In die dekade tevore het Japan 'n reusagtige ryk in Asië verower, so groot soos die hele Europa. Gewone Japanese het dit gedoen vir hul Keiser, wat letterlik God was - 'n skim wat bestaan het maar nooit gesien of gehoor is nie. 'n Eindelose stroom jong mans het tougestaan om hul lewe vir die Keiser op te offer.

In die laaste jaar van die oorlog was die skrif reeds aan die muur. Die Japanese regering het aangedui dat hul gereed is om oor te gee met net een voorwaarde - dat hul Keiser gespaar word.

Hierdie voorwaarde is verwerp deur die geallieerdes, wat beteken dat die voortsetting van die oorlog - insluitend die vernietiging van Tokyo, Hiroshima en Nagasaki - in werklikheid net ter wille van die Keiser was.

The Temple of the Golden Pavillion
Daar is 'n pragtige Russiese fliek - Die Son - wat gaan oor die ontmoeting tussen Hirohito en Generaal Douglas MacArthur van die Amerikaanse besettingsmag. MacArthur moes besluit wat om te doen met die verstrooide-professor Hirohito en het die mannetjie baie inskiklik gevind.

Die Japanese is toegelaat - na al die bloed wat gevloei het - om uiteindelik tog hul Keiser te hou. Hirohito is nooit gevra om te abdikeer nie en is nooit van enige oorlogsmisdade aangekla nie. Anders as sy trawante Hitler en Mussolini het hy in vrede tot die ryp ouderdom van 88 regeer, en sou op vele platforms saam met Koningin Elizabeth, Ronald Reagan en kie verskyn.

Net een klein dingetjie: hy moes sy Goddelikheid afsweer.

Daar is 'n mooi verbeelding in Die Son van hierdie oomblik: alleen in sy kamer sit Hirohito in 'n stoel, strek sy arms en bene uit en sê met 'n glimlag - "Dit is weg".

Vir Japanese soos Mishima was hierdie afswering 'n diepe verraad wat al die bloed van al die gestorwe soldate nietig gemaak het. Dit was die Keiser se verantwoordelikheid om die las van God-wees te dra. Dit het sin aan alles in Japan gegee. Hierdie "God is dood" oomblik het die sinvolheid van alles vernietig.

Kyoko's House
Mishima self was 'n enigma - diep tradisioneel maar wyd belese en bereis in die Weste. Hy was (in sy eie oë) 'n muis op skool wat deur ander kinders afgeknou is. As 'n grootmens het hy 'n obsessie met fisiese krag ontwikkel - hy was 'n gewigopteller totdat sy liggaam mooi en sterk genoeg na sy sin was.

Hy was heimlik gay en het 'n boek daaroor geskryf (Forbidden Colour), maar ook 'n familieman en fanaties konserwatief oor Japanese kultuur.

Hy het tydens die Tweede Wêreldoorlog begin skryf en Japan se voorste skrywer geword - a kamikazi for art - in sy woorde.

Maar hy het in twee wêrelde beweeg - woorde en dade - die pen en die swaard - vroulik en manlik. Sy droom was om hierdie wêrelde te verbind en te transendeer op een of ander manier - en hy het tot die slotsom gekom dat al die kontradiksies sal verdwyn in die oomblik van dood.

Na die mislukking van die "Mishima insident" in 1970 het hy rituele selfmoord gepleeg

Vyftien jaar na sy dood het Paul Schrader die film "Mishima" gemaak, wat sy lewe vergestalt saam met uittreksels uit drie van sy boeke. Dit is 'n uiters eksperimentele, maar lekker fliek.

In die segment oor die boek Runaway Horses, word 'n jong radikale student deur die polisie ondervra. Die student antwoord die pleidooie van "tone it down" met

-If purity is toned down it is no longer purity

-Total purity is not possible in this world

-Yes it is - if you turn your life into a line of poetry written with a splash of blood

-Calm down. Dying isn't everything, you know.

Ongeag Mishima se selfmoord het Keiser Hirohito die goeie lewe in God-se-stilte voortgesit, fanatici sien sterf in sy naam, sonder kommentaar. Anders as Mishima - die boom wat nie buig nie - was die Keiser uiters buigbaar na omstandighede.

Sy begrafnis in 1989 is bygewoon deur 200,000 mense, elke monarg wat jy aan kan dink, Presidente George HW Bush, Francois Mitterand en baie ander. Almal het gedink hy was wonderlik.

Onaangeraak, soos 'n God - 'n lewe sonder inhoud.

Donderdag, Oktober 05, 2017

Die blindheid van Sokrates

Die standaard storie is soos volg:

Chaerophon het vir die orakel van Delphi gevra of daar iemand op aarde met meer wysheid as Sokrates is - die orakel sê nee - Sokrates hoor die nuus en is verstom (want hy weet hoe min hy weet) - maar hy besef in tyd dat die orakel reg was - keer na keer, wanneer hy krap aan die oortuigings van ander mense, val hul stories uitmekaar.

Hierdie gekrappery is gedagte-eksperimente, die "Sokratiese metode".

Sokrates vra: wat is "kennis" of "liefde" of "regverdigheid" of wat ook al. Wanneer jy antwoord zoom hy in op voorbeelde wat jou definisie weerspreek en vra verdere vrae wat jou forseer om die definisie te verander, of te kwalifiseer, totdat jy moed op gee.

Die Sokratiese metode was die "soeke na waarheid". Die idee was om mense deur hierdie irritasies bewus te maak van hul eie onopgeloste geloofstrukture.

Hierdie dialoeë van Sokrates is na sy dood deur Plato neergeskryf, dit is die hoeksteen van westerse filosofie. Vandag se dekonstruksie is Sokrates-na-die-maal - dieselfde gekrappery aan stom en stilstaande teikens - idees, ideologieë, kunswerke, letterkunde - om die interne kontradiksies daarvan uit te lig.

In Plato se boeke kom Sokrates as ongelooflik intuïtief voor - meer vir wat hy vermy as vir wat hy doen. Natuurwetenskap het nie bestaan nie, maar Sokrates besef duidelik (2500 jaar gelede) dat hy nie hierdie metode kan gebruik vir bv "wat is die son" nie, en hy val nooit in daardie slaggaat nie. Hy bly by vrae rondom etiek en metafisika.

Hy besef ook dat sy metode net werk wanneer jy jou slagoffer kan beskaam - maw hom kan kry om sy definisie terug te trek omdat hy nie met 'n onverwagte implikasie daarvan geassosieer wil wees nie. Jy kan hom nie oortuig nie - hy moet homself oortuig.

Tot vandag toe word die venster van politieke debatte deur hierdie Sokratiese tegniek bepaal - politici bly by standpunte waarvan al die implikasies duidelik en veilig vir hulself is.

Sokrates het geleef in, en was 'n celebrity in die stad van Athene. In 399BC het die mense van Athene hom ter dood veroordeel vir godslastering en korrupsie van die jeug.

Danksy Plato is sy gesprekke vasgevang vir altyd. Niemand kan sê waar Sokrates eindig en Plato begin nie, maar tussen die twee van hulle het hulle die boek geskryf.

Dis die standaard storie.

Die lewe en dood van Sokrates en sy "soeke na waarheid" bevat vir my een van die diepste ironieë oor kennis and all that jazz.

Hy is gebore in die wêreld se eerste funksionerende demokrasie (Athene) maar volgens alle aanduidings het hy dit verag.

Plato se langste boek - die Republiek - begin met "wat is regverdigheid" en brei dan uit na die staat en wie moet regeer - wat is die "natuurlike staat" van mense. Lang storie kort, dis basies fascisme, met 'n heersersklas wat Plato "Guardians" noem, 'n staat waarin geen families en geen kuns toegelaat word nie. Wie regeer? Nie die massas of diktators nie, maar die filosoof-koning.

Dis moeilik om te glo dat al hierdie dinkwerk hierby eindig (maar waar).

Die boek speel af tydens die Sparta-Athene oorlog, en Sokrates & sy groep ryk jong bewonderaars is beslis aan die Spartane se kant.

Sparta het Athene vir 'n paar maande verslaan, maar nadat demokrasie herstel is is Sokrates aangekla en verhoor. Nugter alleen weet hoe ernstig die burgers van Athene oor hierdie hofsaak was. Uit 'n groep van 500 toeskouers is hy met 'n klein meerderheid skuldig bevind en die kans gegun om sy eie straf te kies.

Met absolute verwaandheid het hy voorgestel dat die "stad se straf" sal wees om hom vir die res van sy lewe van maaltye te voorsien, vir dienste gedoen. Dit was hierdie minagting wat tot sy doodstraf gelei het.

En dan, ten spyte van dit alles is Sokrates geleentheid gegun om te ontsnap, maar hy het hardkoppig geweier en in 'n traak-my-nie-agtige fuck-em-if-they-can't-take-a-joke houding sy laaste dag spandeer, en sy beker gif gedrink.

Wat ek bedoel met die blindheid van Sokrates is dit: terwyl hy gedink en gedebatteer het, was die groot antwoord, die groot waarheid, reg voor sy oë al die tyd. Dit was reeds gevind, is deur niemand gedink nie, dit het anoniem ontstaan deur 'n massa mense, waarvan nie een slim of wys was nie - en deur baie jare.

Demokrasie.

Die verdraagsaamheid wat sy mede-burgers teenoor hom getoon het, lewenslank en tot met sy verhoor. Ten spyte van sy lae opinie van hulle.

Reg voor sy oë, maar onmoontlik om te erken - want baie jare moes nog vloei onder deur die brug. Ons sien net een raampie in die film van wysheid - die een waarin ons lewe.

Sondag, Augustus 27, 2017

Dit of dood

Die ex-libris stempel wat Eugene Marais vir sy boeke versameling ontwerp het. Met die woorde "dit of dood" in die hoek. Wat op aarde wou hy sê?


Saterdag, Januarie 21, 2017

Die Kandidaat

Cobus Rossouw en die pasgestorwe Hendrik Verwoerd
Die verskyning van Die Kandidaat in 1968 was 'n gebeurtenis in Afrikaanse flieks vergelykbaar met die eerste vertoning van Citizen Kane in Hollywood in 1941.

Beide was eerste flieks deur jong kunstenaars (Jans Rautenbach en Orson Welles) met teater agtergrond maar weinig ervaring van wat 'n film behoort te wees. Beide het die konvensionele flieks van die dag in die stof gelaat met nuwe tegnieke en 'n hele industrie ongemaklik laat voel oor die eendersheid-van-aanslag wat dit belig het.

Clark Gable het blykbaar gesê nadat hy Citizen Kane gesien het

After this I have to go back to making those A-list movies again.

Die regisseur Dirk de Villiers het vertel watter indruk die eerste toneel van Die Kandidaat op hom gemaak het: die jong Roelf Jacobs wat stap deur 'n gang vol moderne kuns in 'n raadsaal in waar ou Afrikaanse gesagsfigure vir hom wag - die lewendiges en die dooies.

Is dit dan soos 'n Franse fliek hierdie? het ek gedink. Op daardie oomblik het ek besef hier is 'n kunstenaar; voor dit het ek gedink Jans Rautenbach is maar net nog 'n kriminoloog wat probeer flieks maak  ;)

Jans Rautenbach was 31 jaar oud. Vyf jaar tevore was hy, inderdaad, die hoof van Witbank gevangenis. Hoe het hierdie ongelooflike transformasie gebeur?

Die Kandidaat gaan oor 'n stigting wat Afrikaner belange bevorder. In die fliek word dit die "Stigting Adriaan Delport" genoem, vandag se gelyke is die Dagbreek Trust.

Alles speel af oor twee dae waarin die stigting 'n nuwe direkteur moet aanstel. Daar is net een kandidaat en meer as die helfte van die speeltyd gebeur in net een vertrek: die raadsaal waarin die bestuur die onderhoud voer en beraadslaag oor die aanstelling.

Eers na 30 min verlaat die fliek hierdie vertrek en 'n tweede storie begin: die kandidaat se dagwerk is hoof van 'n verbeteringskool vir seuns, en hier loop dinge vinnig skeef terwyl hy besig is met sy onderhoudvoering.

Dit was die eerste keer dat 'n nuwe groep karakter-akteurs op doek verskyn het: Cobus Rossouw as 'n aggressiewe sestiger skrywer, Hermien Domisse as 'n volksmoeder en die jong Regardt van den Bergh (saam met sy pa Gert in hul enigste fliek saam) as 'n probleemkind in die verbeteringskool.

Die twee milieus - die raadsaal en die verbeteringskool - is die haves en die have-nots van Afrikanerdom circa 1960s; die beginpunt en die eindpunt; die arm verlede en die ryk toekoms. Twee verskillende wêrelde, klanke en visuele teksture.

Roelf Jacobs, die kandidaat, probeer (soos Jans Rautenbach) die sprong van die een wêreld na die ander maak. Die fliek is gemaak in die jaar na die moord van Hendrik Verwoerd, en 'n groot beeldhouwerk van hom (saam met ander Afrikanerleiers) staan in die raadsaal, stille toeskouers tot die gesprek van die lewendes.

Regardt vd Bergh se eerste rol as 'n
probleemkind
Die debat in die raadsaal gaan grootliks oor wat die ideale Afrikanerleier se eienskappe behoort te wees. Politiek, kerk, sedes en taal (ek sidder wat Dr Verwoerd sou gedink het).

Twee jaar tevore het Emil Nofal en Jans Rautenbach 'n nuwe filmmaatskappy begin en saam twee flieks gemaak (met Nofal as regisseur)  - King Hendrik en Wild Season. Beide was, volgens die resep van die dag, Engelse flieks met die minimum 40% Afrikaanse dialoog om vir die groter regeringsubsidie te kwalifiseer.

King Hendrik het 'n toekenning van die nuwe Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, maar Dr Verwoerd se sluipmoord het 'n sterk Afrikaner-intellektuele teenreaksie veroorsaak en dieselfde Akademie het geweier om Wild Season te bekroon omdat dit "onvoldoende Afrikaanse inhoud" gehad het.

Hierdie verwerping was 'n storm in 'n teekoppie maar het vir Rautenbach 'n idee gegee: 'n 100% Afrikaanse fliek vir die Akademie oor die Akademie, met Afrikaner gewroeg maar 'n onweerstaanbare in-jou-gesig kwaliteit, onmoontlik om te ignoreer. Basta die ou Afrikaanse pastorale klein-dorpie fliek, hierdie sou 'n moderne, toekomsgerigte werk met visie wees.

Dit was die Die Kandidaat.

As die premies vir 'n kommersiële fliek in die hande van 'n eerstekeer regisseur kan ek dit kwalik sien, maar die Gode, die storms en die wilskrag het gewoed en hierdie onwaarskynlike fliek is gemaak.

Dit was 'n enorme sukses: 'n lokettreffer, 'n mediasensasie en het - soos Citizen Kane - dadelik beweeg na die top van Afrikaanse beste-ooit lysies.

En dit het - les bes - 'n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die 60s het die 70s geword, en die 80s, en met die volheid van tyd het Die Kandidaat in die verte verdwyn. Ek self het dit deur die jare vermy - die debatte oor die ideale Afrikaner, gevoer in die verlig/verkramp paradigma van daardie tyd; wat die res van Suid-Afrika se bevolking as 'n oorweging uitsluit - is 'n doodgebore baba.

Dit is eers nou, met die her-kyk daarvan, dat ek besef dat al die water wat onderdeur die brug gevloei het - die septer wat uit die Afrikaners se hande geworstel is - Die Kandidaat bevry het om weer die Die Kandidaat te wees.

Sonder al daardie onregverdige mag kan ons nou weer eerlik debatteer (sonder 'n groot olifant in die raadsaal): bestaan daar nog so iets soos 'n Afrikaner, soos Afrikaners en wat probeer hulle bereik?

En vir Jans Rautenbach was Die Kandidaat - in triomf en later in stilte - sy geliefste film

want dit was my eerste. Want daarna was daar nie meer 'n eerste nie...




Dinsdag, Desember 13, 2016

Hoe sal die ouvrou ouer as oud

Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Sedert my kinderdae het hierdie woorde 'n magiese uitwerking op my gehad. Ek het nie geweet of omgegee waaroor dit gaan nie. Dit was die mag van poësie wanneer die wind opsteek en die seile bol: bestemming onbekend. Is daar enige woorde meer fantasties musikaal in Afrikaans?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

In 1974 is Sheila Cussons horribaal vermink in 'n gasontploffing in haar kombuis. Sy was twee jaar lank in die hospitaal, het ses vingers en 'n been verloor en moes veloorplantings oor haar gesig en lyf kry.

In die jare tevore was sy die geheime minnaar van NP van Wyk Louw, wat haar "kind" genoem het. Sy het die woorde my voete loop na Wellington maar ek gaan Worcester toe geskryf; en Louw het bygesit ...lê, lê in die wingerd kind

Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

( wegwring in 'n baksteen - wat 'n beeld! Doodgaan ) Voor hierdie oomblik was Cussons op 'n Ingrid Jonker trajek - 'n muse wat die manne inspireer. Sy was beeldskoon, maar 'n oomblik het alles weggevat. Desnieteenstaande het sy opgestaan - soek jy die grot klim jy die seemuur - en van vooraf die bestanddele vir haar mojo gesoek, om te offer aan die gode.

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?

In later jare het Cussons gepraat van haar verminking as die begin van haar eie innerlike bevryding as kunstenaar. Uiteindelik kon sy die dinge verwoord wat tot daardie oomblik ontken was; die bestanddele aan haar binnekant vind, nie daar buite in die wereld nie.

Sy was reeds 50 jaar oud maar die grootste deel van haar oeuvre as digter sou nog voorlê.

Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

Cussons 2, met die warm wang en die sywurmhare, het hierdie katarsis gehad, 'n "sikloopkind" geword - 'n klein eenoog monster. En uiteindelik, binne daardie sikloopkind, herenig met die siel van haar jeug.


***

Kombuis van Hera

I
Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

II
Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?


Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

Vrydag, Desember 09, 2016

Lady Macbeth of Mtsensk

Ek het onlangs Nikolai Leskov se stories gelees. Die 19de eeuse Russiese skrywers is bekend vir hul super-swaar emosionele realisme.

En dan was daar Leskov - die teenoorgestelde. Hoeveel so?

Wel, sy langste storie - The Enchanted Wanderer - bevat 'n monnik so heilig dat sondaars sterf wanneer hulle na hom kyk [die Here moet hom woestyn toe stuur omdat hy die volk uitroei ]; 'n boemelaar wat vodka bedel en die glas daarmee saam eet en 'n man wat alkolisme uit jou uit kan "magnetiseer". Die held is, soos Hector in die Iliad, 'n "temmer van perde", maar word deurgaans aangespreek as "my almost half esteemed and most greatly insignificant Ivan Severyanich"

Dit was ou Leskov: alles verbeelding. Die groot drome van klein mense.

Hy het 'n reeks stories geskryf wat klassieke Russiese sprokies geword het. Baie daarvan is verfilm, beide in die Sowjet era en vandag.

Een van my gunstelinge is die storie Lefty - 'n ongeletterde, half-blinde vakman van Tula (Lefty) wat deur die Tsar gevra word om Koningin Victoria se wetenskaplikes op hul plek te sit deur met iets grootser voorendag te kom as die Britte se mikroskopiese opwen staalvlooi.


'n Monument ter era van Leskov se storie
Lefty and the steel flea
Maar sy beroemdste storie is Lady Macbeth of Mtsensk.  Dit het legendaries geword omdat dit so vreesloos pervers was vir die era.

Goethe het volgens oorlewering gekla - "terwyl hulle nog my boek lees wil hulle al die teaterstuk sien". Lady Macbeth of Mtsensk was een van daardie: die storie het onmiddelik 'n lewe van sy eie aangeneem en is honderde kere verwerk, onder meer in Shostakovich se opera en Andrzej Wajda se fliek en baie ander (daar is hierdie jaar - 2016 - 'n nuwe Kanadese fliek daarvan uitgereik).

Dit gaan oor 'n gewone goeie huisvrou wat na vyf jaar in haar huwelik skielik uithak, 'n minnaar neem en sonder om te blik of te bloos met almal wat in haar pad staan wegdoen.

In een van die beste oomblikke in die hele Russiese letterkunde kom haar man terug van sy reise om haar te konfronteer oor die stories wat hy hoor oor haar ontrouheid. Met sweep in die hand dreig hy om die waarheid uit haar uit te slaan, maar tot sy verstomming is sy totaal vreesloos en draai die tafels op hom: dis hy wat op die mat eindig, nie sy nie.

Leskov se kuns was om beskaafde norme by die venster uit te gooi en te sien wat gebeur.

'n 2006 produksie van
Shostakovich se opera weergawe.
Maak nie saak watter sieklike goed Katerina Ismailova, die heldin, aanvang nie (in een toneel raas sy met 'n seuntjie om stil te word voordat sy hom versmoor ), mens kan nie help om aan haar kant te bly nie.

Sy doen net wat in haar hart is, sy is klaar vir altyd om haarself vir ander af te sloof, al is dit duidelik dat sy haarself vernietig - damn the torpedos.  99 myl per uur af in 'n doodloopstraat.

Leskov se storie het die eerste keer in Dostoyevsky se letterkundige tydskrif verskyn in 1965, min of meer dieselfde tyd as die reusagtige Crime and Punishment. Sy storie is omtrent 1/10de die lengte van Dostoyevsky s'n, maar dit het dieselfde tema: wat is krimineel en wat is gewete?

Maar Katerina Ismailova gaan nog verder as Raskolnikov - lank nadat daar niks meer is vir haar om te beskerm of te baat nie bly sy vasgeketting aan haar hart, tot die bitter einde. 

Dinsdag, November 29, 2016

Die Legende van 1900

Kuns is die baster-kind van waarheid en leuens.Wat is en wat kon wees. Waarheid / eerlikheid / geloofwaardigheid - truthfulness - soos die Engelsman sê, is die helfde, maar net die helfde. Die waarheid alleen is te bang, te naby aan die lig; dit klou vas aan 'n kombersie.

'n Vriend het vir my die boek "Without Blood" geleen om te lees. My belangstelling was geprikkel nadat ek gehoor het dat Allesandro Baricco dieselfde skrywer is van die eenman-toneelstuk Novecento ( 1900 ), waarop die fliek "The Legend of 1900" gebaseer is.

[ Italië het reeds 'n ander klassieke fliek met die naam 1900, die Bertolucci / de Niro / Gerpardieu een, 'n ander dag se storie ]

Daar is 'n oomblik in Die Legende van 1900 wat ek nooit sal vergeet nie: 'n boemelaar se woorde

Remember, you are never really done for as long as you have a good story to tell and someone to tell it to.

Die storie is 'n bisarre een: 'n baba wat in die jaar 1900 op 'n groot passasierskip gevind word. Niemand weet wie hy is nie en sy hele lewe bly hy op die boot, sonder om ooit aan land te gaan.

Die kind word letterlik "1900" deur die matrose gedoop ( gespeel deur Tim Roth ) en hy word oor tyd 'n legendariese pianis/komponis in die skip se onthaal saal, maar sy musiek word nooit bekend nie.

Die wêreld is 'n stroom mense wat hy eenmaal sien en dan nooit weer nie.

Daar bestaan vir alle doeleindes geen rekord van hom in die wêreld nie: geen hospitaal, skool, kerk of land wat sy naam aangeteken het nie.

Die storieverteller, Mnr you-are-never-done-for-as-long-as..., is Max, 'n trompetspeler wat saam met hom musiek gemaak het in die skip se gloriedae, en jare later die storie vertel aan ander.

Is dit moontlik om te glo dat so 'n karakter kan bestaan? Ek bedoel nie die letterlike gegewe nie: iemand sou maatskaplike werk bel en die kind verwyder het. Suspend your disbelief.

Die vertrekpunt is so opsetlik vergesog, soos daardie ander Italiaanse fabel - Italo Calvino se Baron van die Bome - waar 'n kind in 'n boom klim en nooit daarna weer sy voete terug op aarde sit nie.

Die dieper vraag is: is dit moontlik om in so 'n karakter te glo - iemand met groot talent wat die veiligheid en eensaamheid van een plek verkies, bo die roem en verhoudings wat hy aan wal kon hê? En waarom?

Die natuurlike ding is om aan 1900 se skip ( die naamlose skip ) as 'n simbool te dink. 'n Klein dam vir 'n groot vis.

Vir die dieper vraag: sou iemand so wil lewe? suspend your disbelief 'n tweede keer en kyk wat gebeur.

Die klimaks van die fliek kom wanneer 1900 uiteindelik besluit, na alles, om tog aan wal te gaan wanneer 'n mooi meisie vir hom haar adres in New York gee.

Wat aan hom bly knaag is 'n gesprek van jare tevore ( met haar pa, vermoed hy ) wat hom vertel het dat die see brul in 'n ongelooflike stem; maar 'n stem wat slegs van die kaai af gehoor kan word. Hy kan dit nie uit sy kop uit kry nie.

Tyd om wêrelde te verruil. 1900 gaan aan wal.

Halfpad af teen die trappe kom hy tot stilstand, peins vir 'n oomblik maar draai dan om en klim weer ( soos 'n lafaard ) op terug na die skip. Die matrose is verslae. Lewe op die boot hervat soos tevore, hoekom en waarom word nooit bespreek nie.

Eers op die laaste dag van sy lewe - wanneer die boot as skroot gekelder word met 1900 nogsteeds aanboord ( hy weier om af te klim tot die bitter einde ) praat hy met Max - wat hom probeer oorreed om af te klim - oor wat daardie dag gebeur het.


I cut quite a figure and I had no doubts about getting off. Guaranteed. That wasn't a problem. It wasn't what I saw that stopped me, Max. It was what I didn't see. Can you understand that? What I didn't see. In all that sprawling city, there was everything except an end. There was everything. But there wasn't an end. What I couldn't see was where all that came to an end. The end of the world.

Christ, did you see the streets? There were thousands of them! How do you choose just one? One woman, one house, one piece of land to call your own, one landscape to look at, one way to die. All that world weighing down on you without you knowing where it ends. 

I was born on this ship. The world passed me by, but two thousand people at a time. And there were wishes here, but never more than could fit on a ship, between prow and stern. You played out your happiness on a piano that was not infinite. I learned to live that way. 

Land is a ship too big for me. It's a woman too beautiful. It's a voyage too long. Perfume too strong.

It's music I don't know how to make.

Maandag, November 14, 2016

Jannie Totsiens

Waarom het Afrikaners in 1970 nie die betekenis van Jannie Totsiens verstaan nie?

Dis 'n vraag wat aan Jans Rautenbach gestel is.

Sy antwoord was "Afrikaners verstaan vandag nog nie die betekenis van Jannie Totsiens nie".

Die antwoord is eintlik akademies, want Afrikaners het dit nog nooit gesien nie, wat nog dit verstaan - nie in 1970 of in 2016 nie. Dis 'n legendariese fliek, maar ek sal verbaas wees as daar as vyfhonderd mense vandag nog lewe wat Jannie Totsiens – een van die grootste Afrikaanse flieks wat ooit gemaak is - gesien het.

Die basiese storie is 'n fantasie: iewers êrens is 'n inrigting vir sielsiekes. Almal in die inrigting, die versorgers en die versorgdes, is Afrikaans. Daar is 'n string onwerklike karakters: 'n Afrikaanse Hitler (Don Leonard), 'n heks met voorspellings en Bybelverse (Hermien Dommisse) en 'n jong nimf wat met poppe speel en oë uitsteek (Katinka Heyns). Een karakter is 'n eenarm man, weggegooi deur sy ouers, wat 'n selfportret met sy mond verf: van homself met twee gewone arms saam met sy ma en pa.

Die fliek begin met die woorde

Daar's 'n vreemdeling in ons midde.

en wys dan hoedat almal se koppe terselfdertyd draai na dieselfde ingang. Na wat voel soos 'n ewigheid van afwagting stap Jannie (Kobus Rossouw) by die deur in, 'n nuwe inname in hierdie wêreld. Wat hom skort bly 'n raaisel, hy is skynbaar stom en praat nie.

Hul reaksie teenoor hom is suspisie wat fassinasie word; 'n liefdesdriehoek, ‘n drang vir sy aandag; tragedie en uiteindelik 'n komplot om hom te vermoor.

Sensories is dit ongetwyfeld een van die rykste flieks in Afrikaans - die visie van Jans Rautenbach op sy kruin saam met die kuns van 'n jong Wendy Malan en Hans Potgieter teenoor 'n klankbaan van ou Afrikaanse volksliedjies:

...bobbejaan klim die berg om die boere te vererg...


...met 'n mooi ryperd, 'n blinkvosperd met 'n spliternuwe saal...

So wat op aarde beteken dit alles?

Dis 'n fliek van vermoëns - 'n kunstenaar verbete om te wys wat hy in sy taal kan vermag - maar 'n verhaal van onvermoëns. 

Jannie Totsiens het gevolg op die hakke van twee groot landmerke in Afrikaanse flieks: Die Kandidaat (1968) en Katrina (1969). Jans het later van Jannie Totsiens gepraat as die derde van 'n trilogie oor Afrikaanse introspeksie.

In hierdie konteks was dit 'n metafoor vir 'n afgeslote gemeenskap (die Afrikaners) wat 'n kranksinnige klankbord vir mekaar geword het, en die intellektuele onder hulle wat stom gebly het.

Maar Jannie Totsiens was in sekere opsigte anders as sy die twee voorlopers. Die fliek het 'n universele gevoel en bruis van arrogansie, van die gevoel dat die kat weg is en die muis baas is. Vir een maal op aarde is daar geen kommersiële oorwegings nie. 

En daar is 'n baie private Jannie Totsiens.

Jans se oudste broer was 'n erg gestremde kind - fisies en verstandelik - met die naam Uysie, wat gesterf het terwyl Jans nog 'n kind was. Na sy dood het dit Jans se taak geword om een maal 'n week - op Woensdae - na Uysie se graf te stap met 'n emmer, vars blomme en 'n waslap om sy broer se graf skoon te maak.

Hierdie weeklikse stap van etlike kilometers sou 'n enorme invloed op sy vorming hê. 

Ek het 'n palm stok opgetel. Daardie stok was my motor, of my vliegtuig, of my skip. In die gang van my reis met my stok het ek mense ontmoet en heldedade verrig; ek het kinders gered wat in die moeilikheid was; ek het wêrelde ontdek waar goud en juwele opgestapel was; ek was 'n seerower op die oseaan; met my palm stok het ek vooruit gevlug en niemand kon my vang nie.

By die begraafplaas het ek die stok gebêre en Uysie se graf skoongemaak en water ingegooi en tussen die ander grafte deurgedwaal. Daar was pragtige grafstene met marmer kopstukke, engele wat staan, afgekapte boomstompe wat simbool was van 'n lewe wat vroeg geëindig het. Daar was ornate grafte wat kluise en huise was. Hierdie grafte het vir my stede geword, en strate en dorpe waarin ek mense besoek het en ontvang is.

Later het ek besef dat hierdie wêreld eie aan myself was. Ek het nooit vir die ander kinders daarvan vertel nie. Ek het gedink hulle sou dink dat ek mal of kinderagtig was.

Jans het hierdie droomgeboorte van hom bo alles gekoester en lewenslank sy lang motor reise tussen Johannesburg en die Klein Karoo met sy palm stok vergelyk.

Wat het dit alles met Jannie Totsiens te doen?

Jannie Totsiens, die geheime Jannie Totsiens, was die droomwêreld van Uysie se begraafplaas wat uiteindelik, soos 'n teaterstel van onder opgereis het vir die wêreld om te sien. 

Maak nie saak of die ander kinders dink dat ek mal of kinderagtig was nie.
Ek noem dit 'n storie van onvermoë, omdat dit wys dat droomwerelde vergestalt kan word, maar ook dat dit moet eindig. Die "Totsiens" van Jannie Totsiens is daardie erkenning. 

Ons lewe tussen ons drome en ons werklikheid.

*

My pa is verlede week oorlede. Hy was tagtig jaar oud maar nog vol planne vir sy volgende fliek. Ek het deur sy laaste notas gekyk en op een plek het hy geskryf

Ek is weer kind wat die winterwasem op die treinkompartement se ruit wegvee om te kyk na die kou van 'n vroegoggend wat verbyvliet.

'n Ouman met slepende bene skietende pyne verstopte are verkalkte verstand.

Kan jy ooit iets sê wat nog nooit gesê is nie?


Jans Rautenbach, 1936 - 2016




Donderdag, November 03, 2016

Jans Rautenbach, 1936 - 2016

Ek het hierdie stuk oorspronklik in 2006 geplaas toe Martin Botha se boek Jans Rautenbach - Dromer, Baanbreker, Auteur verskyn het. 

Daarna weer in Oktober 2015, toe Abraham in teaters begin draai het. Dit was sy eerste fliek in 30 jaar, en sy laaste.

En vir 'n derde en laaste keer in November 2016, een dag na my pa se dood.


Wat is 'n bydrae?

Iets wat belangrik in sy tyd was? Iets wat die loop van gebeure verander het? Iets wat die toekoms voorspel het?

***

Die eerste herinnering van my lewe is 'n oomblik van opkyk en 'n harde slag teen die kop. Ek was 'n paar jaar oud, aan't speel op 'n leë koppie in die Klein Karoo, toe ek deur 'n spanner uit die lug getref is.

Dit was op hierdie kaal heuwel aan die voet van die Swartberge waar my pa en ma - na elke soort sukses as jong Joburgers - besluit het om 'n huis te bou.

Jans was besig met die eerste konstruksie in die veld: 'n toilet met mure en 'n deur en 'n watertenk bo-op, toe hy die spanner ingedagte afgegooi het. Die gevolg was 'n klomp bloed op my gesig en klere, Jans half histeries met my in sy arms, gejaag na my ma - wat na alles afgewas was net 'n klein skrapie kon vind.

Maar danksy al die drama was dit by daardie oomblik, daardie plek, waar my bewussyn begin.

Met die eerste tree van 'n droom: om 'n klipkasteel in die berg te bou waar daar toe niks was.

Van ons lewe voor dit kan ek niks onthou nie.

Ek weet dat Jans gery het van Johannesburg na die Kaap, opsoek na die regte plek om "Pappa Lap" te skiet. Diep in die nag het hy op Beaufort-Wes gestop vir brandstof en 'n koppie koffie. Daar, met die motor-naglig en 'n padkaart het hy 'n lang reguit-suid pad gesien met 'n onduidelike eindpunt.

Hy het besluit om hierdie pad te probeer.

Na 'n lang nagrit het die pad teen son-op deur die Swartberge gekronkel by Meiringspoort.

Meiringspoort is 'n geologiese wonder, 'n dramatiese diep skeur deur die berg wat met sonop 'n fantastiese oranje-rooi lig en skaduspel word. Aan die einde van hierdie poort het 'n magiese klein dorpie teen die heuwel gelê - asof dit daar verskyn het net vir hom - soos Brigadoon wat vir een dag elke eenhonderd jaar uit die mis verskyn.

Die dorp se naam was "De Rust".

"Pappa Lap" is op De Rust geskiet en kort daarna is 'n plaas gekoop, 'n ent daarvandaan, 'n leë plaas met heuwel en 'n wonderlike uitsig oor die reuse Klein Karoo vallei. Die plaas is "Oulap" gedoop.

Jans het na afloop van "Pappa Lap" teruggekeer na die stad, en vir die grootste deel van sy flieklewe gependel tussen die werk in Johannesburg en die gesin in die Klein Karoo, waar Oulap stadig besig was om vorm aan te neem, danksy my ma.


Sy werk was uiteindelik soos daardie nag op Beaufort Wes - 'n keuse vir 'n onsekere bestemming, 'n bestemming wat vandag nog onbekend is, want die reisiger reis nog en pad vorentoe bly 'n raaisel.

Maar sy lewe lank is Jans gedryf deur net een sekerheid, een ingebore leidraad: sy instink vir wat goed en swak is, dit wat tweederangs is, wat nooit die eindpunt werd is nie.

Maar die pad self was altyd onduidelik, 'n moeras van teenoorgestelde impulse: die stad en die plaas, alleenwees en deelwees, Afrikaans en Engels, Verwoerd en Mandela, die wereld hier en die wereld daar, kuns en vermaak, geloof en twyfel.


As kind het ek hom aan die etenstafel hoor praat oor hoe groot kunstenaars hulleself "losmaak" van hul wereld.

Die wereld waaruit hy gebore was was op die kruin van triomf, vol antwoorde, vol sukses.

Afrikaners het pas hulle land "teruggeneem" en was nou gereed vir 'n plek in die son. Hierdie instap in die son was die "saak" - Afrikaans tot sy volle reg - in die regering, in die sakewereld, in die media, op universiteite.

'n Klein gemeenskap met een doel is 'n sterk gedierte: hul waardeer mekaar, elke nuwe prestasie in die uitbou van Afrikaans is raakgesien en bespreek en bejubel.

Dit was hierdie gehoor met wie hy kon praat, maar van wie hy hom moes "losmaak", al was hulle waarskynlik die enigstes wat omgegee het.

Daar is 'n ou cliche oor Afrikaanse: die digkuns is briljant, die prosa goed, die drama so-so.

Van die flieks is nie eers gepraat nie. Wat bestaan het was nie gereken nie. Die woordeskat, die paradigma, die visie, die persoonlikheid vir 'n Afrikaanse kunsfilm het nie bestaan nie.

Die sestigers van Afrikaanse letterkunde het op 'n binne/buite manier die gemeenskap begin pols oor die wysheid van hul gekose rigting: apartheid.

Maar min mense kon werklik ten volle "los wees", die prys was baie hoog en die wereld daarbuite was groot en onvriendelik. En buitendien, daar was baie goeie trou vir mekaar en soveel wat nog saam vermag moes word.

Die medium van rolprente vereis soveel deursetting omdat daar soveel uitlekgate is: soveel plekke waar die visie kan smelt, versmoor, verdun, soveel mense wat die materiaal met hul vuil vingers hanteer, soveel tyd wat verbygaan, soveel kokke, soveel ponde vleis.

Dit vereis iemand met besondere selfgeloof om eerstens 'n visie te hê en dit dan te behou en beskerm van die eerste tot die laaste dag.

Daarom is die auteur iets anders as 'n skrywer: iemand met 'n visie, 'n oog, 'n oor, 'n wil en 'n dik vel. 'n Kunstenaar maar ook 'n barbaar - geslote vir die verkeerde argumente en onwelkome feite, die auteur moet homself laat geld oor die koppe almal, of alles is tot niet.

Vir al hierdie redes is dit vir my nie verbasend dat die Afrikaanse rolprentbedryf uiteindelik net een Jans Rautenbach opgelewer het nie. Alles inaggenome was die kanse nooit groot nie.

"Die Kandidaat" en "Jannie Totsiens" word vandag beskou as sosiale protes, maar dit was iets veel belangriker: 'n nuwe houding teenoor die gehoor, 'n nuwe verwagting.

Die werklike "boodskap" was: Kyk, dit is moonlik. Ons kan dit doen, in Suid-Afrika, in Afrikaans, onsself, in ons eie leeftyd, vir die eerste keer. Kuns kan geskep word, alles is moontlik, glo dit, maak jou oë en jou kop oop.

Dit was die inneem van 'n regmatige plek in die wereld, die instap vanuit die koue na die son.

Was Jans werklik so diep verbind tot die Afrikaners?

Verseker.

Die Jans Rautenbach van "Die Kandidaat" tot "Broer Matie" was geanker in die ideaal van 'n suksesvolle, ryp Afrikaner volk - oopkop, voorspoedig, vindingryk en verdraagsaam.

"Ek en die Boere... Ek en die Boere gaan mekaar nog begrawe", het hy gesê.

En wat van die res van Suid-Afrika?

Baie min blankes kon enigsens die Suid-Afrika van 1994 visualiseer, behalwe in hul nagmerries, nog minder die Suid Afrika van 2005.

Daar was 'n vae vrees oor die toekoms, 'n stadige verlies aan selfvertroue oor die politieke rigting, maar geen duidelike alternatief nie.

Jans se vroeë flieks het die mees algemene letterkundige protespunte na die rolprentmedium geneem - Wit en Bruin Afrikaners, try for white, liefde oor die kleurgrens - en op 'n liberaal-nasionalistiese manier hanteer.

Maar daar was baie beperkings aan sy politieke betoog, dit was kritiek-uit-liefde, van sy tydgenote het verder gegaan en meer gesê.

In later jare het hy op 'n dwase manier vir die ou regering in diens getree: "Die Sestig Jaar van John Vorster" en "White Roots in Africa" en daarmee baie goeie trou ongedaan gemaak.

Die jong Jans het gehou daarvan om te sê, in die middel van 'n politieke gestry

"Ek het meer vir hierdie land gedoen as wat sus en so ooit sal weet..."

Hierdie woorde het verdwyn deur die jare, uit selfvertroue het baie foute gekom, en met wysheid nederigheid.

Nee, politiek is nie Jans se bydrae nie.

Jans het nie die wereld verander of voorspel nie.

Wat is sy bydrae?

Sy bydrae is 'n jong Katinka wat haar houtperd dra deur die veld, oproep na haar ridder ...want jy het gesê as ek jou wil hê, dan moet ek jou kom haal... op 'n mooi ryperd, 'n blink vos perd, met 'n splinternuwe saal...

Sy bydrae is 'n misgebore, vergete seun in 'n gestig, verwerp deur sy ouers, wat 'n gesin verf, gelukkig en heel en gesond.

Sy bydrae is 'n brandende huis en 'n gebreekte hart daarbinne...

Regardt wat dobbel deur die nag, sy lot onder drie bekers ...kyk nogeens goed mijn kind, op die vlakte daar ver... kom 'n man op zijn paard...

Kimberley en Katrina, in trane in die donkerte onder strobe lights, wit en swart... terwyl die band sing "Don't you feel like crying..."

Adam wat groet: "We will ring the bells for you, Katrina..."

Die groot deure van Raadsaal wat oopgaan.

Regardt en Zoli wat lag in 'n lugballon ...'n sprokiesparadys, waar jou wildste drome bestaan, vat my saam...

Gordon en Katinka - pa en dogter wat verleë kyk hoe die ryk kêrel die geld deur sy vingers vleg...

Die lied van die ongewenste vreemdeling...

Vat haar weg
van haar ma af
van haar pa af
van haar broer af
uit haar land uit...

Sy bydrae is sy kuns.

[15 Oct 2006]

Vrydag, Oktober 28, 2016

The Picture of Dorian Gray

Oscar Wilde het 'n roman geskryf (sy enigste) - 'n horror storie oor 'n sexy jong man, Dorian Gray, van wie 'n portret geskilder word.

Wanneer hy daarna staar kom 'n gedagte by hom op:

A painting can capture eternity. 

en hy maak sy beroemde wens: dat hy vir altyd jonk sal bly en dat sy geskilderde weergawe in sy plek sal oud word.

Wanneer hy besef dat sy wens waar word ( hy sien 'n snedige glimlag in die portret nadat hy sy verlowing op 'n wrede manier verbreek ) laat waai hy met 'n lewe van seks, drugs en rock & roll wat Koningin Victoria se kop laat spin het.

The Picture of Dorian Gray was so 'n skandaal in ou Brittanje dat Wilde 'n spesiale voorwoord daarvoor geskryf het wat die oorsprong van die frase art-for-art's-sake is - feitlik so beroemd soos die storie self.

Die boek het inderdaad geen morele les nie - dit is onuitstaanbaar big deal, seksisties en versot. En tog, die verwerkings daarvan hanteer dit as 'n les: crime doesn't pay.

Wat vir my interessant bly van hierdie boek is nie soseer die eksternalisering van ouderdom nie, maar van moraliteit. Dorian Gray bly nie net jonk nie, maar ook onskuldig in die oë van die meisies wat op hom verlief word - maak nie saak wat hy doen nie. Intussen word die skildery al hoe meer afskuwelik, totdat Dorian dit later wegsteek omdat hy nie daarna kan kyk nie.

In daardie opsig was Oscar Wilde se nalatenskap dieselfde as Dorian Gray: 'n lewe van verdorwenheid wat verheiligd is.

Sy ambiwalente gevoel oor die skildery lei tot 'n reeks moorde - waarvan die arme skilder daarvan die eerste is.

En tog - maak nie saak hoe diep hy die portret wegsteek nie - word hy magneties teruggetrek om daarna te kyk asof hy hierdie afskuwelike deel van hom ook wil besit.

Pyn wil gevoel word, sonde wil gestraf word. Anders voel dit nie meer soos sonde nie.